15/09/2024
VARS NUUS / PERS VERKLARING:
14 September 2024
Uitgereik deur die SA Bakkie van die Jaar organisasie
2024 SA BAKKIE VAN DIE JAAR: HIER IS AL DIE WENNERS…
BREDASDORP (Wes-Kaapland). – Die omvattende en uitmergelende evaluasie van
die agt amptelike deelnemers in die 2024 Suid-Afrikaanse Bakkie van die Jaar
kompetisie, met die inskrywings in vier verskillende kategorieë wat in drie
afsonderlike dissiplines (4x4- en veldry-verrigting, dinamiese hantering op teer en
grond, asook sleepvermoë op teer en grond) beoordeel is, het vir ’n paar
verrassende en interessante uitslae gesorg…
Die wenners-aankondiging, wat op Saterdag, 14 September, by die NAMPO Kaap-
uitstalling in Bredasdorp plaasgevind het, het nie net die eerste hibriede voertuig-
wenner in die land nie, maar ook die eerste oorwinning van ’n Chinese vervaardiger
in die hoogs mededingende bakkie-arena, opgelewer – met die GWM P500 HEV
Ultra Luxury 4x4 9AT wat as algehele wenner van die 2024 Suid-Afrikaanse
Bakkie van die Jaar (SABOTY) kompetisie gekroon is.
Die doel van die jaarlikse kompetisie, wat verlede jaar gevestig is, is om die
spesifieke behoeftes en verwagtingte, asook die verwagte en krities-belangrike
verrigtingsmetings op omvattende wyse met meetbare, herhaalbare en verifieerbare
toetse te evauleer om sodoende die beste bakkie in die land wat in daardie
spesifieke jaar bekend gestel is, te bepaal en aan te wys.
Die Great Wall Motors (GWM) P500 HEV Ultra Luxury 4x4 9AT, wat baie onlangs in
Suid-Afrika bekend gestel is, het die juriespanne, bestaande uit vooraanstaande
motorjoernaliste en nywerheidspesialiste, met sy hoëgehalte binneruim-afwerking,
ultra-hoë toerustingvlak, gerieflike rit op teer, grond en in die veld, imponerende
hantering en goeie sleepvermoë.
Só indrukwekkend was die GWM P500 HEV Ultra Luxury 4x4 AT se vertoning dat dit
nie net sy klas en algeheel gewen het nie, maar ook die sleepkategorie, asook die
bestuursdinamika en 4x4-kategorieë. Sy kleiner stalmaat, die GWM 2.4 T 9AT 4X4
Luxury, het net so imposant vertoon, en is as die wenner in sy klas aangewys.
Soos met die eerste kompetisie verlede jaar, is die deelnemers in drie verskillende
kategorieë gegrond op enjinkrag verdeel – kategorie A met enjinkrag van 100-125
kW, kategorie B van 126-160 kW en kategorie C vanaf 161 kW en hoër – maar
vanjaar is ‘’n vierde kategorie, vir doelgeboude Spesialis-bakkies, bygevoeg.
Ingevolge die kategorieë, het die Foton Tunland G7 4x4 8AT TLX en Isuzu D-MAX
1.9 X-Rider 4x4 AT in die 100-125 kW meegeding, die Ford Ranger 2.0 Bi-Turbo
Tremor 4WD 10AT en GWM P500 2.4T 9AT 4X4 Luxury in die 126-160 kW klas, die
GWM P500 HEV Ultra Luxury 4x4 9AT (hybriede aandrywing) en RAM 1500 5.7 V8
HEMI Rebel 4x4 RHD (petrol) in die 161kW tot 200 kW plus klas, en die Jeep
Gladiator Rubicon 3.6 V6 8AT (petrol) en RAM 2500 gelid-sessilinder 6.7-liter
Laramie (diesel) in die Spesialis-klas. ’n Ford Ranger Raptor 3.0 Twin Turbo V6
AWD 10AT het nie-amptelik in hierdie klas meegeding, en hoewel dit geëvalueer is,
is sy resultate nie vir die kompetisie in ag geneem nie.
Na die strawwe toetse in die verskillende dissiplines, is al die punte bymekaar getel
en ge-oudit (met insluiting van faktore soos koste van eienaarskap, soos verskaf
deur Lightstone, waarde vir geld wat kleinhandelprys, waarborge en diensplanne
betref, asook herverkoopwaarde), en daarvolgens is die wenners in die verskillende
kategorieë is bepaal:
Die wenners is:
100 - 125kW kategorie: Foton Tunland G7 4x4 8AT TLX
126 - 160kW kategorie: GWM P500 2.4T 9AT 4X4 Luxury
161 – 200+kW kategorie: GWM P500 HEV Ultra Luxury 4x4 9AT
Spesialis-kategorie: Jeep Gladiator Rubicon 3.6 V6 8AT (petrol)
Interessant genoeg is die Isuzu D-MAX 1.9 X-Rider 4x4 AT aangewys as die
beste bakkie wat koste van eienaarskap betref.
Alle dubbelkajuitbakkies met 4x4-dryfstelsel wat van September verlede jaar tot
Augustus vanjaar in die land bekend gestel is, het in oorweging gekom vir hierdie
tweede jaarlikse Bakkie van die Jaar-kompetisie. Dit het beteken dat geen bakkies
van Volkswagen (die wenner van die eerste Bakkie van die Jaar-kompetisie met
Amarok PanAmericana 3.0 V6 TDI 4MOTION 10-gang outo), Mahindra, Mitsubishi,
Nissan and Peugeot oorweeg is nie.
Vervaardigers en verspreiders wat wel uitgenooi is om aan vanjaar se kompetisie
deel te neem, was Ford (Ranger Tremor, Platinum and Raptor), Foton (Tunland G7),
GWM (P500 2.4 en HEV), INEOS (Grenadier Quartermaster), Isuzu (D-MAX 1.9 X-
Rider), JAC (T9), Jeep (Gladiator-opkikkering), LDV (T60 Pro en Max Luxe), RAM
(1500 en 2500) en Toyota (Hilux 48V, Hilux GR-S III en Land Cruiser 79).
Sommige het die geleentheid van die hand gewys, insluitende JAC, INEOS (wat die
Quartermaster diesel wou inskryf, maar dié was nie betyds beskikbaar nie), LDV (die
vervaadiger het ingeskryf, maar ter elfder ure onttrek, vermoedelik weens
spesifikasie-aanpassings aan sy T60-reeks) en Toyota (wat aangedui het die Hilux-
reeks nader nou die einde van sy model-leeftyd en sou dus nie meer mededingend
wees teen die jongste modelle in die mark nie).
Die deelnemende bakkies (in alfabetiese volgorde) was die Ford Ranger Tremor,
Foton Tunland G7, GWM P500 2.4 en P500 HEV, Isuzu D-MAX 1.9 X-Rider, Jeep
Gladiator Rubicon en die RAM 1500 Rebel en 2500 Laramie (deur die plaaslike
agente US Trucks in Richardsbaai). “Hoewel ons graag betrokkenheid van alle
handelsmerke met gepaste bakkies sou wou sien, het ons ’n verteenwoordigende lys
inskrywings ontvang, met interessante deelnemers, soos die twee modelle van die
gerekende Amerikaanse vervaardiger RAM, asook die eerste hibriede bakkie wat
plaaslik beskikbaar is,” het Dirk Gallowitz, direkteur en sameroeper van die Bakkie
van die Jaar-kompetisie, gesê.
“Die kompetisie was vanjaar weer grotendeels gemik op dubbelkajuit-
ontspanningsbakkies, maar die nuwe spesialis-kategorie het ’n nuwe dimensie
daaraan verleen, synde dit deelname van spesifieke, doelontwerpte bakkies moontlik
gemaak het,” het hy bygevoeg. “Wat hierdie fassinerende mengsel van modelle
egter duidelik uitgewys het, is hoe vinnig en ver dinge die bakkiemark in een kort jaar
gevorder het...
Alle dinamiese toetse (versnelling en remtoetse) is opeenvolgend op dieselfde stuk
pad gedoen en met V-BOX-tegnologie opgeneem. Interessant om op te let, was dat
ingevolge hierdie syfers die drie produksiebakkies in die land met die vinnigste
versnelling deelnemers aan die kompetisie was... Die Ranger Raptor was die
vinngste, wyl die groot HEMI V8-aangedrewe RAM 1500 Rebel en die hibriede GWM
P500 HEV kop-aan-kop was in die 0-100 km/h-toetse (7.4 sekondes teenoor 7.3
sekondes).
Alle afmetinge, waaronder ongelaaide massa, en vrag-gewig, naderhoeke,
oorsteekhoeke en vertrekhoeke, asook wielbeweging is aangeteken, en hier het die
Jeep uitgeblink, hoewel sy langer asafstand die oorsteek van skerp versperrings
bemoeilik het. Die RAM 1500 Rebel met sy groot standaard-bande het gerieflik enige
versperring oorgesteek. Al die mededingers het egter goed in die veldry gevaar, met
die rygehalte van die twee GWM P500’s en die RAM 1500 Rebel wat uitgestaan het.
Die sleeptoetse – gedoen met ’n volledig-toegeruste Mobi Lodge Continental-
veldwoonwa met ’n gewig van sowat 1,5 ton – het in gure en winderige
weerstoestande plaasgevind, en in dié toetse het die RAM 2500 Laramie (dis meer
’n trok as ’n bakkie) met sy groot 6.7-liter dieselenjin en meer as 1 000 Nm wringkrag
goed gevaar. Tog het die bakkies met kleiner enjins, soos die Isuzu en Foton,
merkwaardig vertoon, en nie een het gesukkel om die swaar wa teen die steiltes op
te sleep nie.
Die Ranger Tremor het goed gevaar in die dinamiese toetse, wat ’n standaard-
baanwisseltoets en slalom-toets ingesluit het, wyl die GWM P500-modelle, asook die
RAM 1500 Rebel met hulle hoë toerustingvlakke binne sowel as buite, asook hulle
goeie rygehalte en ritgerief oor alle soorte padoppervlaktes.
“Elke denkbare aspek en kenmerk wat ’n bakkie-eienaar sou oorweeg, is met die
evaluasie in ag geneem,” het Gallowitz gesê “Die punte is bepaal deur meer as vyftig
vrae per kategorie op die vraelyste. Voorts is faktore soos koste van eienaarskap,
versekeringskoste, bandevervangingskoste, brandstofkoste, waardervermindering
oor tyd, en herverkoopwaarde bepaal. Dit is als in berekening gebring om die
klaswenners en die algehele wenner te bepaal.”
*Vir die volledige uitslae en toetsgrafika van die kompetisie, besoek
www.bakkieoftheyear.co.za. Vir meer inligting, kontak asseblief vir Dirk Gallowitz (tel.
082 889 2010) of Ferdi de Vos (tel. 083 444 2733).
<einde>